The clever man knows many ways, the wise man knows the right way.

- CJ Langenhoven

Let's get social

08May2012
PrintE-mail

My testament is ongeteken

Op 31 Maart 2003 moes die Appèlhof beslis oor die bekragtiging al dan nie van ‘n ongetekende dokument as testament.

In die saak van Bekker v Naude was die feite die volgende: Gedurende Oktober 1993 het die oorledene en die appellante ABSA Bank genader vir die opstel van ‘n gesamentlike testament. Hulle het aan die bank verduidelik wat hulle gedoen wil hê. Standaardvoorwaardes is gebruik om ‘n konseptestament op te stel. Die konseptestament is nooit onderteken nie en het die oorledene die lewe op 10 Mei 1998 gelaat.

In Desember 1999 het die appellante ‘n aksie ingestel vir ‘n bevel op grond van art 2(3) van die Wet op Testamente – dat die konseptestament die laaste wil van die oorledene beliggaam en dat die Meester beveel word om die konsep as die oorledene se testament te aanvaar. Die hof a quo het die aansoek van die hand gewys met verlof tot appèl.

Art 2(3) van die Wet op Testamente bepaal:

“Indien ‘n hof oortuig is dat ‘n dokument of die wysiging van ‘n dokument wat opgestel (ons beklemtoning) of verly is deur ‘n persoon wat sedert die opstel of verlyding daarvan oorlede is, bedoel was om sy testament of ‘n wysiging van sy testament te wees, gelas die hof die Meester om daardie dokument, of die dokument soos gewysig, vir die doeleindes van die Boedelwet, 1965 (Wet No 66 van 1965), as testament te aanvaar ofskoon dit nie aan al die vormvereistes vir die verlyding of wysiging van testamente bedoel in subartikel (1) voldoen nie.”

Volgens die Appèlhof is die regsvraag: is die konseptestament deur die oorledene en die appellante opgestel? Die vraag is dus of die woord “opgestel” die beperkte betekenis van – persoonlik opgestel, geskryf, getik of tot stand gebring soos bv dit te dikteer – moet dra of liewer die wyer betekenis van “laat opstel” soos in – laat skryf, laat tik of laat maak.

Die Appèlhof beslis die volgende:

  1. Die basiese beginsel by wetsuitleg is dat die gewone, grammatikale betekenis van woorde gevolg moet word tensy dit tot absurditeit, inkonsekwentheid, onbillik-heid of ‘n anomalie lei. Art 2(3) bevat geen sodanige absurditeit, enige inkonsekwentheid, groot onbillikheid of anomalie nie.
  2. Daar is ‘n baie sterk aanduiding dat die wetgewer juis bedoel het om ‘n eng interpretasie aan die woord “opgestel” te gee.
  3. Dit is weliswaar so dat die wetgewer ‘n “kondoneringsbevoegdheid” aan die howe verleen in art 2(3), maar alle voorvereistes is nie daarmee oorboord gegooi nie. Die vereiste van ‘n dokument wat deur ‘n testateur opgestel is, word in ondubbelsinnige taal gestel en wel om goeie redes.
    Testamentformaliteite is eeuelank gestel om bedrog en dispute na die dood van die testateur te probeer uitskakel. Selfs by die verlening van ‘n “kondonasiebevoegdheid” is hierdie doel voor oë gehou. Die vereiste dat die dokument deur die testateur self opgestel is, waarborg ‘n mate van betroubaarheid, omdat dit bewys van ‘n persoonlike handeling deur die testateur vereis, waaruit sy bedoeling duidelik afgelei kan word. Daarenteen, as die vereiste slegs een is van “laat opstel”, is die kanse vir bedrog en valse beweringe wat die testateur nie na sy dood kan betwis nie, veel groter.
  4. Daar is geen gronde waarop van die gewone letterlike betekenis van art 2(3) afgewyk kan word nie. Die hof het ‘n “kondoneringsbevoegdheid” slegs indien die voorgenome testament deur die oorledene persoonlik tot stand gebring was. In die onderhawige geval het die oorledene die konseptestament deur die bank laat opstel wat hul eie standaardvoorwaardes en bewoording gebruik het. Dit kan nie met reg gesê word dat die konseptestament deur die oorledene opgestel is nie.
    Die appèl word van die hand gewys.

Die doel van hierdie Appèlhofuitspraak is ook om ‘n einde te bring aan die verskillende teenstrydige uitsprake wat dikwels in die verlede op hierdie punt gelewer is. ‘n (Ongetekende) dokument wat die oorledene deur ‘n prokureur, bank, trustmaatskappy of ander derde persoon soos bv sy finansiële adviseur laat opstel het, sal voortaan nie vir bekragtiging (as testament) deur die hof vatbaar wees nie.

Dit noop ‘n mens om weer te besin oor al daardie ongetekende testamente van die kliënte wat lê en wag om onderteken te word. Dis duidelik dat die uitspraak tot gevolg het dat daar dus nie uitvoering gegee sal kan word aan ‘n dokument wat ons weet meer as dikwels werklik ‘n weerspieëling was van die oorledene se laaste wens en begeertes nie - maar dat sy boedel beredder en verdeel sal word volgens sy laaste behoorlik verlyde (getekende) testament.